Documenta

Die Fridericianum tydens documenta 13
Kassel se padteken

documenta is 'n kunsuitstalling wat aanvanklik elke vier en nou elke vyf jaar in Kassel, Duitsland, gehou word. Die uitstalling duur 100 dae en word as die belangrikste uitstalling van moderne en eietydse kuns ter wêreld gesien.[1][2] Dit is in 1955 gestig deur die kunstenaar, onderwyser en kurator Arnold Bode as deel van die Bundesgartenschau ("Federale tuinskou") wat daardie jaar in Kassel gehou is. Die eerste documenta was – in teenstelling met die algemene verwagting – 'n aansienlike sukses en dit het meeste van die kunstenaars wat as invloedryk in die moderne kuns was, soos Pablo Picasso en Wassily Kandinsky ingesluit.[2]

Hierdie Museum van Eenhonderd Dae het tot 'n oorweldigende suksesverhaal ontwikkel. In die Europese somer van 2012 is die dertiende documenta deur meer as 860 000 mense besoek. Die uitstalling se eiesoortige karakter is oor die jare heen bewaar; anders as by ander soortgelyke internasionale uitstallings word documenta volgens die visie van 'n enkele individu saamgestel. Daar is geen nasionale pawiljoene nie, dit word nie beperk tot spesifieke media nie en elke nuwe documenta verskil van die vorige in uitleg, tematiese ontwerp, uitstalruimte en konsep. documenta se wesentlike karakter is dié van innovasie en vernuwing; die uitstalling hou tred met die jongste kunsneigings soos video-, rekenaar- en internetkuns. Elke documenta word so te sê opnuut uitgevind deur die direkteur en sy of haar span.[3]

Die eerste documenta het hoofsaaklik op Europese kuns gefokus en het Duitsland blootgestel aan die ontwikkelinge wat in kuns plaasgevind het, voor en na die Tweede Wêreldoorlog.[2][4] In die 1960's is al hoe meer Amerikaanse kuns vertoon soos wat die middelpunt van die avante-garde kunsbeweging oor die Atlantiese Oseaan geskuif het.[5] Hoewel documenta van vroeg af kunstenaars van oral in die wêreld ingesluit het, het veral die afgelope twee documentas groot getalle kunstenaars van buite Europa en die Amerikas ingesluit. Dit het ook gepaard gegaan met 'n groter mate van politieke en maatskaplike inhoud in die kuns wat uitgestal is.

  1. Art South Africa, At the end of Documenta 12..., besoek op 28 Desember 2007
  2. 2,0 2,1 2,2 Goethe Instituut, KuBus 7 – 40 years of the documenta, besoek op 17 Desember 2007.
  3. DOKUMENTA KASEL 16/06 -- 23/09 2007, documenta, besoek op 28 Desember 2007
  4. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Kits
  5. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named documenta12-d4

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search